Health Care

Score0 (0 Votes)

SKAAPBESTUUR VOOR-LAM: Algemene bestuursaspekte

Artikel 6 van 6 oor hierdie onderwerp

“CONCEPTION TO CONSUMPTION” - 'N PROGRAMBENADERING

In die vorige artikels in die reeks oor skaapbestuur in laatdragtiheid is die volgende aspekte bespreek - inleidende gedagtes, voeding/kondisie, enting, spoormimeraalaanvulling, en parasietbeheer. In die laaste aflewering word ‘n paar algemene bestuursaspekte in aanloop tot die lamseisoen hanteer, wat kan help om die lamproses so glad as moontlik te laat verloop. Die volgende punte behoort aandag te geniet:

 

  • Klas die ooie volgens kondisie en/of meerlingstatus indien dit nog nie gedoen is nie. Pas die voeding van ooie wat se kondisie nie optimaal is nie aan, asook die van die ooie wat meerlinge dra, om teen die aanbreek van die lamseisoen in ‘n kondisiepunt van ten minste 3.5 te wees.

  • Werk so rustig as moontlik met swaardragtige ooie 

    • beperk stres sovêr as moontlik tydens hantering

    • ooie moet rustig na en van die hanteringsgeriewe aangejaag word

    • hanteringsgeriewe moet van so ‘n standaard wees om dit moontlik te maak om rustig te kan werk

    • vermy kneusings of beserings tydens hantering om aborsies te voorkom

    • werkers moet ook opgelei wees om so rustig moontlik met die diere te werk

    • water moet te alle tye naby beskikbaar wees 

    • indien ooie in uitsonderlike omstandighede in die kraal moet oornag, moet vars drinkwater en voer (hooi) beskikbaar wees

  • Verbeter toesig by laatdragtige ooie en maak veral seker dat ooie wat gaan lê en nie kan opstaan nie, opgehelp word om vrektes te voorkom.

  • Beplan solank die lamkampe en maak seker dat die heinings en watervoorsiening in orde is.

  • Indien die lammers kruipvoer gegee gaan word, moet seker gemaak word dat die voerbakke en kruiphekke in orde is.

  • Indien ongediertes ‘n probleem is tydens lamtyd, moet vroegtydig werk gemaak word om die getalle van ongediertes te verminder en seker te maak dat heinings (jakkalswerend) of ander afskrikmetodes in ‘n goeie en werkende toestand is of geïmplimenteer word.

  • Indien van lamhokkies gebruik gemaak word, moet seker gemaak word dat:

  • die hokkies behoorlik ontsmet word

  • die watervoorsiening en kosbakke voldoende en in werkende toestand is

  • die beddegoed voldoende is

  • skaduwee en windbreke in orde is (as dit buitenshuis plaasvind)

  • die rantsoen wat vir aanpassing gebruik gaan word en in die hokkies gevoer gaan word, vroegtydig bestel of gemeng word.

  • Let op vir aborsies in laatdragtigheid. Enige geaborteerde fetus behoort so spoedig moontlik na die veearts geneem te word en weg gestuur word vir ondersoek om die oorsaak te probeer vasstel.

  • Wees op die uitkyk vir metaboliese siektes bv. 

    • “Domsiekte” - ooie se rumenspasie raak beperk (veral by ooie wat meerlinge dra), wat voedingstofinname beperk. Ooie breek liggaamsvet af om in energiebehoefte te probeer voorsien en dit kan lei tot die opbou van ketone wat domsiekte veroorsaak. Die kwaliteit van voeding van laatdragtigheid is hier van kardinale belang. Behandeling is nie baie effektief nie maar ‘n aanvulling (dosering) van vinnig beskikbare energie kan probeer word

    • Melkkoors - subkliniese melkkoors kan net voor en na lam voorkom, met ooie wat lusteloos is en sukkel om gelam te kry. In kliniese gevalle gaan die ooie lê met ‘n kenmerkende kop-op-die-skouer houding en reageer nie op enige stimulus nie. ‘n Inspuitbare kalsium/magnesium/fosfaat aanvulling kan wondere verrig

    • ‘n Toestand wat as “grass staggers” bekend staan - wat kan voorkom op welige aangeplanteweiding en die gevolg is van ‘n magnesiumtekort. Ooie kan lusteloos wees, onvas op hulle voete of hipergestimuleerd voorkom. Behandel aangetaste diere dadelik met ‘n kalsium/magnesium aanvulling en voorsien hooi saam met die weiding.  

  • Indien wolskape in laatdragtigheid geskeer word, moet daar baie versigtig met die ooie gewerk word tydens die skeerproses. Dit word ook aanbeveel dat ooie nie korter as 6 weke voorlam geskeer word nie.

  • Maak seker dat die “noodhulptas” aangevul is met die nodigste vir gebruik tydens  lamtyd.


 

Vote for this content: 5 4 3 2 1

Wil u meer te wete kom oor die onderwerp?